Diep in die hart van Namakwaland, is daar min mense wat so veel doen vir hul gemeenskap as Franklin Julius (54), ’n inwoner van Bergsig, en ‘n ware voorbeeld van gemeenskapsbetrokkenheid en toewyding aan sy dorp.
Motoriste op die besige Tolweg-roete het al geruime tyd gekla oor indringerbome wat hul sig belemmer. In plaas daarvan om te wag vir aksie van die plaaslike owerhede, het Franklin Julius besluit om self die saak aan te pak. Met ’n klein span jong mans het hy die bome gesnoei en die roete weer sigbaar gemaak vir veilige gebruik.
Dit is nie net die veiligheid van die motoriste wat verbeter is nie, maar ook die nuwe aansig – een wat skoonheid en netheid weerspieël.

Die Speaker, Dr Gustav Bock is verheug oor Franklin Julius (regs) se harde werk om ons dorp mooier en skoner te maak.
Maar dit was nie ’n eenmalige projek vir Julius nie. Sy liefde vir tuinbou het oor baie jare gegroei, en hy is al lank besig om maniere te vind om, waar hy en sy gesin hul bevind, die aansien van hul omgewing te verfraai. Of dit nou is om klein tuintjies rondom die dorp se instansies aan te lê, of om net seker te maak dat die strate skoon en netjies bly, Julius se handewerk is oral sigbaar. Hy doen dit nie vir erkenning of lof nie, maar uit ’n diepgewortelde liefde vir sy tuisdorp.
Dr. Gustav Bock, die Speaker van die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit, het Julius bedank vir sy onbaatsugtige werk. Hy het beklemtoon hoe belangrik dit is om inwoners soos Julius te hê wat bereid is om saam te werk om hul gemeenskappe mooi en veilig te hou. “Mense soos Franklin Julius is die hart van ons dorpe. Hulle wys vir ons wat gemeenskap werklik beteken,” het Bock gesê.
Vir Franklin Julius is die grootste beloning nie die woorde van erkenning nie, maar die wete dat hy bygedra het tot die verbetering van sy gemeenskap. Sy toewyding aan Namakwaland, en veral sy dorp Bergsig, is ‘n voorbeeld vir ons almal. Hy herinner ons daaraan dat elkeen van ons die vermoë het om ‘n verskil te maak, ongeag hoe groot of klein die bydrae mag wees.
Last modified: October 17, 2024