

Eerstens wil ek baie dankie sê aan die ondersteuners van hierdie beweging.
Ons hoop dat u ons sal vertrou om opnuut te begin om verandering te bring.
Die koalisie met die NCM en die DA is daadwerklik een wat van ‘n baie hoë
gehalte is – en een wat op beginsels gebasseer is. Daar is ’n paar dinge wat ons baie duidelik wil maak:
Ons het ons gemeenskappe belowe ons sal alles met opregteid aanpak en dit is
presies wat ons wil doen.
Die Nama-Khoi munisipaliteit moet tot sy volle potensiaal benut word sodat
dienste effektief gelewer kan word aan die belastingbetaler, die pensioenaris
en almal tussen-in.
Ons wil fokus op alle werknemers se welstand en indien benodig, sal daar
aanpassings gemaak word waar elkeen meer doeltreffend kan funksioneer.
Hierdie koalisie sal dit moontlik maak vir die doeltreffendheid van menslike
hulpbronne en doeltreffende gebruik van materiële hulpbronne.
Ons is nie hier om rond te sit nie. Ons het ’n instansie wat vir ons
gemeenskappe moet werk.
Ons Rand-en-sent sal ook meer doeltreffend aangewend moet word.
Daar sal kostebeheer-maatreëls in plek gestel word sodat ons meer kan bereik
met dit tot ons beskikking.
Namakwaland, ek dink baie van julle het nou al gesien dat ons nie slaplê nie.
Ons werk saam met ’n organisasie wat netso doelgerig is soos ons – wat
onophoudelik sal poog om diens-uitnemend-heid teenoor ons publiek te skep.
Ons gaan beslis korrupsie in hierdie entiteit ontwortel sowel as die
wanbesteding van die fondse van die mense en belastingbetalers.
Daarom, is dit van kardinale belang om ’n kultuur te implimenteer van groot
aanspreeklikheid binne die munisipaliteit en die pas aan te gee in die strewe na
skoon oudits.
Namakwaland, julle het gesien wat ons as die NCM binne sewe maande bereik
het.
Ons was aggressief in ons benadering, want dit is belangrik dat ons julle
oortuig dat ons die mense is wat alles in ons vermoë sal doen om
lewensstandaarde te verbeter.
Daar is nie meer tyd vir baie praat nie. Daar is soveel werk wat voorlê en die
tyd het aangebreek dat ons julle kan wys dat hierdie koalisie een van ‘goue’
standaarde is.
Die tyd het aangebreek dat julle gehoor word…
Die tyd het aangebreek om ’n verskil te maak…
Die tyd het aangebreek vir verantwoordbaarheid…
Met ons koalisie-vennoot, sal ons nie verkeerd kan gaan nie….
Ek is Dokter Gustav Bock, Burgemeester van die Nama-Khoi Munisipaliteit.
Baie dankie
Last modified: March 24, 2022